Met Akkedis op die radio is alles nog OK

Hanru Niemand

By Hanru Niemand

Hanru Niemand is a versatile Afrikaans singer-songwriter from the Boland.

More about Hanru Niemand

18 Mar 2025

Met Akkedis op die radio is alles nog OK

Dit is April, die jaar 2004, dalk 2005. Ek en my vriend Kaalvoet hang al heeldag rond by die Rock Art Café, Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Dis Oudtshoorn-warm, en die donderwolke pak al saam vir die klimaks van die hittegolf. Soos Akkedis begin speel, so begin dit ook te reën. `n Blonde meisie met `n oranje toppie dans op `n tafel. Tot vandag toe, meer as twee dekades en baie gigs later, deur beide plaaslike en internasionale musikante, bly hierdie een van my top ervarings.

Wat is dit wat my so aangryp van Akkedis? Moontlik lê die antwoord vir my in `n ongebreidelde nostalgie, waartoe ek geneig is. Ek het Akkedis die eerste keer gesien op `n TV nuusberig in die 90’s, wat saaklik verslag gedoen het oor `n musiekfees iewers. Dit was nog die nuwe Suid-Afrika, en die Springbok Nude Girls het die wêreld aan die brand gespeel. Die musiekwêreld het ontplof, net betyds vir my tienerbrein. Lekker bands en feeste het links en regs ontspring as teenpool vir Noot vir Noot en die NP. In Maandag se koerant het Chutney de Ridder weekliks boeiend geskryf oor wat alles aan die gang is op die musiektoneel. Ook in die Afrikaanse kringe was dinge aan’t gebeur: Koos Kombuis, Valiant Swart, Piet Botha met sy eerste Afrikaanse album, en dies meer. Wel, mens sê nou “en dies meer”, maar dit is juis in daardie tyd dat Akkedis hul opwagting gemaak het, as teken dat hierdie Alternatiewe Afrikaanse beweging momentum het, dat nog beter dinge op ons wag...

Maar dis nie net die nostalgie nie. Akkedis is en bly `n besonder lekker band. Hulle is ver verwyderd van enige vorm van pretensie. Hulle forseer nie hulle saak by jou keelgat af nie, is nie kwaad net omdat dit in die mode is om kwaad te wees nie, verbeel hulle nie hulle is digters nie. Desnieteenstaande is die lirieke digterlik en stewig. Die musiek is onbeskaamd melodieus, met perfekte harmonieë, terwyl die rock hard en energiek is. Ek sê nou rock, maar eintlik kan Akkedis soomloos glip tussen Boland Rock, blues en reggae. Trouens, ek reken hulle is een van die min bands wat reggae in Afrikaans kan laat reg klink. Daar is `n moeiteloosheid in die sang, sonder dat dit te glad of kommersieel klink. Waar die stemme hees is, is dit nie die aangeplakte rasper wat jou manlikheid moet wys nie, of die lae gekrys wat die wêreld moet wys dat jy `n diep seun is wat ernstige dinge kan dink en sê nie. Dis ook nie die bespotlike gekerm en gebrul wat moet wys hoe kragtig jou emosies is nie. Akkedis is in hierdie opsig `n effens rare verskynsel deesdae: rof, spontaan, onopgesmuk, maar tog is die musiek op `n tiekie. 

Akkedis se musiek was al eerlik voor die woord “eerlik” `n cliche begin raak het. In dié verband moet ek noem dat ek `n broertjie dood het aan die relatief hedendaagse klem wat Afrikaanse resensente  lê op woorde soos “eerlik”, “plat-op-die-aarde”, “loslit” en “vars”. Nie dat daar per se iets verkeerd is met hierdie eienskappe nie. Eerder dat daardie terme te dikwels gebruik word om `n gebrek aan presisie en kwaliteit te verdoesel. Dit is, met ander woorde, vir my asof “eerlik” deesdae eerder verwys na `n pseudo-emosionele getjommel. Daarenteen is die Akkedisse egte vakmanne, wat hul gereedskap oor die jare vlymskerp gehou het deur onverbiddelik aan te hou speel, jaar in en jaar uit. 

Iewer in 2006 of 2007 ry ek en Kaalvoet met sy rooi Opel in Stilbaai se strate. Ons was daar vir `n gig van ons eie, siende dat ons albei toe ook aspirant musikante was. Op die CD-speler speel Vir Volk en Vaderland, tot vandag toe my gunsteling album van Akkedis. Indertyd was Akkedis se tipe musiek reeds nie meer op die voorpunt van die modegiere nie. Dit was nie dalk ook toe alreeds nie meer die Nuwe Suid-Afrika nie, ons het dit net nog nie so mooi besef nie. Die voorstedelike Afrikaanse jeug het hulself begin herverbeel as modieuse punks en `n groot aar is raakgeboor. Daardie gier het egter, soos vandag nog, my nie aangegryp nie en ek was dankbaar vir Akkedis op die Opel se luidsprekers.

Dit is nou al amper twintig jaar terug en Akkedis is nog steeds hier. Baie het intussen verander. Piet Botha is oorlede. MK89 het gekom en gegaan. Daardie modieuse kinders in die videos se kinders is nou op laerskool en vra vir chipsticks by die kleure-atletiek. Mense koop nie meer CD’s by gigs nie. Maar Akkedis hou meedoënloos aan met speel, en alles is nog OK.